Steve Hofmeyr is as sanger, akteur, volksdigter en skrywer by uitstek ‘n kultuurmens wat sy volksliefde
weerspieël. Hofmeyr, wat self op skool ‘n rugbyspeler, swemmer en atleet was, het Maandagaand
tydens die openingseremonie van die gesogte nasionale Bokkieweek, ‘n oorkonde vir sy lewenslange
bydrae tot die Afrikanerkultuur ontvang.
Bokkieweek vind vanjaar van 3 tot 7 Julie in Kroonstad plaas. Altesaam 2 848 spelers is vanjaar uit 15 unies van regoor die land gekies om deel van hierdie kultuurbelewenis te wees. 579 beamptes uit verskillende dorpe en stede is in Kroonstad om te help om spelers en spanne af te rig en te organiseer.
Die Afrikanerbloed loop dik deur Stephanus Johannes Hofmeyr se are en daarom het hy vanjaar vir ‘n
tweede keer by die toonvenster van Afrikanersport, Bokkieweek, opgetree.
“Ek is innig dankbaar,” sê Hofmeyr. “Mens doen nie wat jy doen vir pryse nie, maar dis lekker om te
weet jou eie mense sien dit raak.”
Die Afrikanerkultuur is vir Hofmeyr belangrik, omdat erfenis vir hom dankbaarheid is. “Jy gee nie net eer
aan die wat die pad gelyk maak vir jou en jou kultuur nie, jy vra jouself of jy dit doen vir die wat in jou
spore wou volg.”
“Jy sal die gemaklike, voor-die-hand-liggende, veilige omgewing gou mis as jy dink jy gaan die kraal
vaarwel roep, sê Hofmeyr oor Bokkieweek, wat jaarliks sedert 1992 gehou word.
Hofmeyr sê hy hou sy eie kinders ook betrokke by die Afrikanerkultuur. “Ek probeer ons waardes
demonstreer en hou eenvoudig nooit op om ons verhale te vertel, ons liedjies te sing en ons
monumente te besoek nie!”
David Mey, AVS-president, sê dis ‘n groot eer om die oorkonde aan Hofmeyr te oorhandig. “Steve is ‘n
voorbeeld van hoe Afrikaners aktief kan bydra tot die bevordering van ons taal, kultuur, standvastigheid
en die beskerming van Afrikaners binne ‘n land waar ons kinders ook uitgesluit word.”
Bokkieweek se krag kom vanuit gemeenskappe en individue wat aktief deelneem. Sportmangees en
uitnemendheid is elke jaar sigbaar op elke sportveld en in elke span.