Brekende Nuus
Afrikaans

Bejaarde tydens aanval op kleinhoewe in kop geskiet

'n Bejaarde man is Dinsdagoggend vroeg in 'n huis op 'n kleinhoewe deur booswigte wat toegang tot die huis verkry het in die kop geskiet.

Bejaarde tydens kleinhoewe-aanval in kop geskiet
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Rassie Smith (69) is Dinsdagoggend vroeg, omstreeks 01:45, tydens ‘n huisroof op ‘n kleinhoewe in Niemandstraat, Andeon in die Hercules-polisiëringsarea in die kop geskiet.

AO Johan van Dyk sê die slagoffer en sy vrou het in hul slaapkamer geslaap, terwyl hulle seun met sy vrou en kinders, onderskeidelik agt en een jaar oud, in die sitkamer geslaap het.

Die ouer vrou het wakker geword en twee mans by die voetenet van hul bed opgemerk. Sy het geskree, waarop haar man wakker geword het.

Die een verdagte het ‘n skoot geskiet wat die slagoffer in die linkerkant van sy kop getref het. Beide verdagtes het sonder om iets te steel, gevlug. Die slagoffer se seun het in ‘n poging om die verdagtes af te skrik die wapen wat leë rondtes skiet gegryp en lukraak buite geskiet.

Die slagoffer is met ‘n ambulans na die Kalafong-hospitaal vervoer.

Die ondersoek na die huisroof duur voort.

Nico van Vuuren, die voorsitter van Hercules GPF Sektor 4, sê in ‘n sosialemediaplasing hy het WhatsApp-boodskappe ontvang van die aanval en ‘n huurder wat in die kop geskiet is. Die twee verdagtes wat as kort van lengte beskryf is, het toegang deur ‘n deur verkry. Honde op die kleinhoewe is ‘n week vantevore vergiftig.

Van Vuuren sê die polisie was baie vinnig op die toneel. Hy het voorts die betrokke rolspelers wat vir hulp gemobiliseer het, bedank.

Soos verstaan word, is die slagoffer in ‘n kritieke toestand in Kalafong-staatshospitaal. Hy moet blykbaar ‘n operasie ondergaan om ‘n koeël te verwyder.

Bron: SAPD en Hercules GPF Sektor 4