OOS-KAAP. – ’n Dreigement oor ‘n bom op ’n kommersiële vliegtuig op King Phalo-lughawe is Woensdag 21 Oktober as ’n vals alarm bevestig, nadat ’n deeglike soektog geen plofstof of verdagte voorwerpe opgelewer het nie. Alle passasiers, vlieëniers en kajuitpersoneel het veilig van die vliegtuig afgeklim terwyl veiligheidsdienste die voorval ondersoek het.
Brig.genl. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê die polisie se springstofeenheid in KuGompo is ontbied, nadat ’n oproep van ’n onbekende nommer by die passasiersinligtingstoonbank ontvang is waarin beweer is dat daar ’n bom op die vliegtuig is. ’n Gesamentlike veiligheidsreaksie is geaktiveer, met onder meer springstofdeskundiges, honde-eenhede, lughaweveiligheid, ’n gyselaaronderhandelaar, die brandweer en nooddienste wat betrokke was. Die vliegtuig en bagasie is sistematies deursoek, maar geen springstof, springstoftoestelle, verdagte voorwerpe of gevaarlike materiaal is gevind nie. Die toneel is veilig verklaar en aan lughaweveiligheid terugbesorg.
’n Saak ingevolge die springstofwet is geregistreer. Die ondersoek duur voort om die persoon op te spoor wat die oproep gemaak het. Die polisie waarsku dat ’n vals bomdreigement ’n ernstige misdryf is wat ’n moontlike tronkstraf van tot tien jaar kan meebring.