Brekende Nuus
Misdaad

AfriForum vra oor ‘vermiste’ CPN-polisieverslag

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – AfriForum se privaatvervolgingseenheid het antwoorde van die polisie geëis oor die status van ’n forensiese verslag oor beweerde bedrog, korrupsie en wanbestuur in die polisiediens se afdeling vir forensiese dienste.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die CPN Forensic and Accounting Services-verslag was reeds sedert 2013 aan opeenvolgende nasionale polisiekommissarisse en die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie voorgelê, maar is die aanbevelings glo steeds nie geïmplementeer nie. Die eenheid verteenwoordig drie fluitjieblasers wat beweer dat hulle ná die ondersoek geviktimiseer is. Hulle het ook voor die ad hoc-komitee wat die bewerings van lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi ondersoek, getuig.

AfriForum sê ’n interne verslag van 7 November 2025 deur genl.maj. Mark Hankel dui daarop dat pogings om die oorspronklike CPN-verslag binne die polisie op te spoor, onsuksesvol was. Volgens die organisasie is aanbevelings uit dié verslag glo ook nie geïmplementeer nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gesê die situasie laat ernstige vrae oor aanspreeklikheid binne die polisiebestuur ontstaan. Die eenheid het polisiebestuur versoek om die fluitjieblasers in te lig oor die status van die CPN-verslag en oor die proses vir die implementering van die aanbevelings van beide die CPN- en Hankel-ondersoeke.

Druk hier om meer te lees.