Brekende Nuus
Afrikaans

Saak van Lindsay Clancy nietig verklaar

Foto: Ter illustrasie (Canva)

VSA. – Regter William Sullivan van die Plymouth-hooggeregshof in Massachusetts het die moordsaak teen Lindsay Clancy nietig verklaar.

Volgens CNN kon die jurie ná dae se beraadslaging nie ’n eenparige uitspraak bereik nie.

Clancy, ’n voormalige verpleegster, is van moord met voorbedagte rade op haar drie jong kinders – Cora (5), Dawson (3) en Callan (8 maande) – aangekla. Die kinders is op 24 Januarie 2023 in hul huis in Duxbury verwurg. Kort daarna het Clancy self deur haar slaapkamervenster in ’n selfdoodpoging gespring. Sy is sedertdien in haar onderlyf verlam.

Aanklaers in die saak het gesê Clancy het die moorde beplan en geweet wat reg en verkeerd is. Die verdediging het erken dat sy haar kinders doodgemaak het, maar het aangevoer sy moenie strafregtelik verantwoordelik gehou word nie, omdat sy oorgemedikeer was en aan post-natale psigose gely het.

Die jurie, bestaande uit nege vroue en drie mans, het 36 uur lank oor sewe dae beraadslaag. Vir ’n derde keer het hulle aan die regter gesê hulle kon nie ’n uitspraak bereik nie. Notas het gewys die jurie was 11 teen 1 verdeeld, terwyl ’n uitspraak eenparig moes wees.

Voor die wanverhoor amptelik verklaar is, het Clancy se prokureur, Kevin Reddington, ’n noodappèlaansoek by die hoogste hof van Massachusetts ingedien. Hy wou hê die enkele jurielid wat nie saamgestem het nie, moes verwyder word, omdat hy glo dié man het geweier om die reg te volg soos die regter dit verduidelik het. Die hof het hierdie versoek egter Vrydagmiddag van die hand gewys.

Daarna het regter Sullivan die jurie weer in die hof ingebring en die verhoor amptelik nietig verklaar. Dit beteken die verhoor is nou sonder ’n uitspraak verby. ’n Statusverhoor is vir 29 September geskeduleer. Die aanklaer moet nou besluit of Clancy weer verhoor gaan word.

Bronne: CNN, ABC News, CBS News