JOHANNESBURG. – Daar is in die week op 1 700 items van nagemaakte sportdrag, skoene en vervaardigingstoerusting by ’n stoorfasilitet in Johannersburg se middestad beslag gelê. Die waarde word op meer as R1,5 miljoen geskat.
Volgens kapt. Amanda van Wyk, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisiediens, het die nasionale eenheid vir vervalste en onwettige goedere die operasie gelei nadat inligting ontvang is.
Die Gauteng-eenheid vir vervalste en onwettige goedere, die polisie se eenheid vir openbare orde, die Johannesburgse metropolisie die SAID se doeane-afdeling en verteenwoordigers van handelsmerk-beskerming het aan die operasie deelgeneem.
Luidens die polisieverklaring het die sportdrag en skoene bekende handelsmerke op, insluitend die Springbokke se handelsmerk.
Die tydsberekening van die beslaglegging was kritiek, aangesien Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuners die week gereed gemaak het vir die Springbokke se wedstryd teen Nieu-Seeland wat gister in Soweto gespeel is. Tydens sulke geleenthede is die vraag na ondersteunersdrag gewoonlik hoër.
Die vervaardigingstoerusting wat gevind is, het vervalste etikette en plakkers, asook ’n stempelmasjien en seepdrukplate ingesluit.
Die operasie was deel van ’n groter, landwye poging deur die SAPD en sy vennote. Hulle wil kriminele netwerke ontwrig wat vervalste en onwettige goedere maak, versprei en verkoop.
Die SAPD het die publiek gevra om waaksaam te bly. Mense moet sportdrag- en items by wettige en goedgekeurde winkels koop. Die publiek is ook aangemoedig om vermoedelik vervalste goedere by die regte owerhede aan te meld.