Brekende Nuus
Misdaad

Soektog geloods na ontsnapte gevangene by Rooigrond

Foto: Departement Korrektiewe Dienste

NOORDWES. – Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het ’n soektog van stapel gestuur na ’n gevangene wat op 6 September uit die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng ontsnap het. Altesaam agt DKD-amptenare het kennisgewings van voorgenome skorsing ontvang hangende ’n ondersoek na die omstandighede rondom die ontsnapping.

Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoeder, sê Edward Khomotso Madiba, wat in ‘n enkelsel aangehou is oor ’n verdere aanklag wat met ’n vorige ontsnapping verband hou, het volgens voorlopige inligting deur die traliedeur van die selle gesny en uit die fasiliteit ontsnap. Madiba dien tans ’n vonnis van 20 jaar uit vir roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, ontvoering en die oortreding van paroolvoorwaardes. Die DKD het sy veiligheidspan gemobiliseer en werk saam met ander wetstoepassingsagentskappe om Madiba dringend op te spoor en weer in hegtenis te neem.

‘n Volledig ondersoek is ook deur die departement ingestel na die ontsnapping, insluitend die veiligheidsmaatreëls by die fasiliteit. Die ondersoek sal bepaal hoe die ontsnapping plaasgevind het en of enige nalatigheid of ’n veiligheidsbreuk daartoe bygedra het. Die publiek word versoek om enige inligting oor Madiba onmiddellik by wetstoepassingsowerhede aan te meld.