Brekende Nuus
Afrikaans

Voedselhulp aan Wesbank met helfte gesny

Foto ter illustrasie (Canva)

ROME. – Die Wêreldvoedselprogram (WFP) het gewaarsku dat hy weens ’n gebrek aan befondsing gedwing word om die omvang van sy hulpverlening in die besette Wesoewer met die helfte te verminder.

Volgens UN News het Shaun Hughes, die WFP se landdirekteur vir Palestina, Dinsdag aan joernaliste in Genève gesê: “Ons befondsing raak op, en dit beteken dat sowat 200 000 mense vanaf vandag nie meer toegang tot noodsaaklike hulp sal hê nie.”

Hy het gesê toenemende geweld deur Israeliese setlaars en die eskalering van Israeliese militêre operasies, tesame met streng bewegingsbeperkings, slopings en wydverspreide verplasing, “het Palestynse bestaansmiddele ondermyn en tot groter voedselonsekerheid bygedra”.

Byna ’n miljoen mense regoor die Wesoewer – meer as ’n kwart van die bevolking – ervaar tans hongersnood, het hy gesê. Hy het bygevoeg dat “die syfer twee jaar gelede 11 persent was”.

Internasionale hulporganisasies wêreldwyd sukkel om befondsing te bekom, aangesien die VSA ’n drastiese vermindering in sy steun gelei het, terwyl ander Westerse lande ook hul skenkings verminder.

Bronne: UN News, Al Jazeera