Brekende Nuus
Nuus

Boervrousmithie ernstig beseer toe bul haar op plaas aanval

Foto: Megan Fasching

NOORD-KAAP. – Lisa-Lodene Smith, ook bekend as Boervrousmithie, is ernstig beseer toe ’n bul haar Dinsdag 8 September op hulle plaas in Nieuwoudtville in die Noord-Kaap aangeval het. Haar ma, Wiekkie Labuschagne, het meer oor die voorval op sosiale media vertel.

Volgens Labuschagne het die bul Lisa-Lodene aangeval en met sy horings deurboor. Haar man, Ryan Smith, het die bul van kant gemaak. Hy het gesien dat sy weens haar wonde reeds baie bloed verloor het. Lisa-Lodene is 19 weke swanger ná twee miskrame. Labuschagne sê Ryan het besef daar is nie tyd om vir ’n ambulans te wag nie en het haar na Van Rhynsdorp geneem, waar ’n dokter haar wonde skoongemaak en haar gestabiliseer het.

Sy is daarna per ambulans na Malmesbury vervoer. Daar het die dokters haar geopereer. Haar toestand is nou stabiel. Volgens Labuschagne het ’n ginekoloog haar Woensdag in die hospitaal besoek en bevestig dat haar babaseuntjie ongedeerd is. Lisa-Lodene het egter steeds baie pyn en ontvang daagliks fisioterapie in die hospitaal. Volgens haar ma sal sy ná haar ontslag met fisioterapie moet voortgaan en ook wondsorg benodig. Die familie se plaas is 317 km van Malmesbury af.

In ’n afsonderlike boodskap op BackaBuddy, wat deur Megan Fasching geplaas is, word verdere besonderhede oor die voorval verstrek. Daarvolgens het die bul Lisa-Lodene in die lug gegooi, waarna sy op haar kop en rug op ’n kliptafel geval het. Die BackaBuddy-boodskap sê Ryan het die bul met sy pistool van kant gemaak, nadat hy gesien het hoe hy sy vrou aanval. Dit meld ook dat daar volgens die familie nie tyd was om vir ’n ambulans te wag nie en dat die fonds volgens die boodskap nie ’n helikopter wou stuur sonder ’n dokter se verwysingsbrief nie. Volgens dié boodskap was een van Lisa-Lodene se wonde aan haar sy massief groot. Verskeie are wat deur die bul se horings geperforeer is, is volgens die boodskap deur dokters geheg, maar geen organe is beseer nie.