NOORD-KAAP. – Pieter Andries Nel, ’n voormalige luitenant-kolonel in die polisie, is in die Upington-streekhof vir ernstige handelsmisdade skuldig bevind aan 80 aanklagte van bedrog en 80 van geldwassery.
Lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, sê Nel was hoof van finansiële dienste by ZF Mgcawu-polisiedistrik en was verantwoordelik vir die magtiging van betalings aan diensverskaffers asook reis-en-verblyftoelaes van polisielede. Volgens die Valke het Nel tussen 2022 en 2024 sy werkgewer bedrieg deur vals betalings van meer as R1,2 miljoen te skep en goed te keur. Die geld is glo in sy persoonlike bankrekening betaal.
Die Valke–ondersoekspan het Nel op 28 Mei 2025 by sy woning in Upington in hegtenis geneem nadat ’n J50-lasbrief uitgereik is. Nel is op 12 September 2024 ná ‘n dissiplinêre proses uit die polisie ontslaan. Die polisie het daarna R1 258 636,88 van sy pensioen afgetrek om die bedrag terug te vorder.
Die saak is vir vonnisoplegging tot 2 Desember uitgestel.