KAAPSTAD. – Die Stad Kaapstad bied ’n beloning aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van persone wat verkeersbeamptes tydens ’n onwettige straatren in Paardeneiland aangeval het.
Twee verkeersbeamptes is beseer en drie Stad Kaapstad-verkeersvoertuie is beskadig tydens die voorval Vrydagnag 18 September.
Volgens Alderman JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het beamptes kort ná 23:00 twee motoriste in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur en deelname aan ’n onwettige straatren.
Die straatrenne het omstreeks middernag hervat, waarna ’n derde bestuurder in hegtenis geneem is. Hy word onder meer aangekla van deelname aan onwettige straatrenne, dronkbestuur, versuim om te stop en opsetlike beskadiging van eiendom nadat hy met ’n verkeersvoertuig gebots het.
Toe beamptes die voertuig wou skut, het die skare toeskouers volgens Smith vyandig geraak. Twee verdere verkeersvoertuie is beskadig, waarvan een se sy- en agterruite stukkend geslaan is.
Die Maitland SAPD het die verkeersbeamptes bygestaan. Beamptes het daarna die voertuig agternagesit wat hulle probeer skut het en wat intussen van die toneel af weggesleep is.
Die bestuurder van die gesleepte voertuig is in hegtenis geneem op aanklagte van oproerige gedrag, intimidasie, die dreig van ’n beampte, die verhinder en belemmer van ’n beampte en die aanhitsing van geweld.
Al vier verdagtes is by die Maitland SAPD aangehou. Drie voertuie wat volgens die Stad in die onwettige straatrenne gebruik is, is ingevolge die Stad se verkeersverordening geskut.
Marine Drive is om 01:45 vir verkeer skoongemaak.
Smith het gesê die Stad sal nou saam met die SAPD werk om ander persone wat by die aanval betrokke was, te identifiseer en op te spoor.
Die Stad bied ’n beloning aan vir inligting wat tot die inhegtenisneming van enige van die persone wat die wetstoepassingsbeamptes aangeval het, kan lei.
Inligting kan anoniem, 24 uur per dag, by 0800 110 077 verskaf word.
Bron: Stad Kaapstad