Brekende Nuus
Nuus

Hof stel toekenning van Nasionale Lotery-lisensie tersyde

Foto: Ter illustrasie

Die Hooggeregshof in Pretoria het die besluit van Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, om die vierde Nasionale Lotery- en Sportpoel-lisensie aan Sizekhaya Holdings toe te ken, tersyde gestel.

Regter Norman Davis het Maandag bevind dat die lisensietoekenningsproses prosedureel onregmatig was. Volgens die hof het ‘n ministeriële komitee, wat deur Tau aangestel is, ‘n bykomende evalueringsproses gevolg wat nie deel van die oorspronklike tenderproses was nie. Die komitee het die aanbiedinge opnuut beoordeel en ander aanbevelings gemaak as dié van die oorspronklike evaluerings- en beoordelingskomitees. Gevolglik het die hof die lisensietoekenning tersyde gestel en die lisensie-ooreenkoms tussen die minister, die Nasionale Loterykommissie (NLC) en Sizekhaya ongeldig verklaar. Tau moet nou die toekenning opnuut oorweeg, sonder om op die ministeriële komitee se verslag en aanbevelings staat te maak.

Die uitspraak beteken egter nie dat die Lotto onmiddellik tot stilstand kom nie. Die hof het die werking van sy bevel vir twee opeenvolgende tydperke van ses maande opgeskort om te verseker dat die lotery sonder onderbreking kan voortgaan. Gedurende die eerste ses maande kry die minister geleentheid om ‘n nuwe besluit oor die lisensietoekenning te neem. Indien Sizekhaya nie weer as lisensiehouer aangewys word nie, sal die verdere ses maande tyd bied vir onderhandelinge, ‘n nuwe lisensie-ooreenkoms en oorgangsreëlings. Intussen kan Sizekhaya voortgaan met kaartjieverkope, trekkings en die uitbetaling van pryse.

Die uitspraak volg op regstappe deur Ithuba Lottery en Ringeta Consortium, wat die lisensietoekenning betwis het. Ithuba, wat die vorige Nasionale Lotery bedryf het, het die uitspraak verwelkom en gesê dit bevestig die belangrikheid van ‘n billike, deursigtige en verantwoordbare lisensieproses. Die hof het ook ‘n afsonderlike aansoek deur die EFF van die hand gewys.  

Bronne: Goldrush Holdings, Moneyweb, eNCA