Brekende Nuus
Nuus

Huiseienaar skiet indringer ná hy glo met mes aangeval is

Foto: Google Maps

GAUTENG. – ’n Huiseienaar het ’n vermeende inbreker geskiet nadat hy hom glo vroeg Saterdagoggend in sy slaapkamer in sy huis in Landistraat, Garsfontein betrap het en met ’n mes in die linkerbo-arm gesteek is.

Die 66-jarige huiseienaar en die verdagte is albei op die toneel gevind en vir mediese behandeling na gesondheidsfasiliteite geneem. Die verdagte is daarna onder polisiebewaking geplaas. 

Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-distrik se polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die voorval het omstreeks 03:50 plaasgevind. Die huiseienaar was aan die slaap toe hy wakker gemaak is en die indringer gesien het. Hy het hom gevra wat hy in sy huis doen. Die verdagte het hom na bewering met ’n mes gesteek, waarna die huiseienaar sy vuurwapen te voorskyn gebring en vyf skote geskiet het. Een koeël het die verdagte se kop geskraap en ’n ander het hom aan die regterkant van sy bolyf getref. Hy is in besit van die mes gevind wat na bewering tydens die voorval gebruik is. ’n Boutsnyer en koevoet is ook gevind en by die polisiestasie ingehandig.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord en poging tot huisroof. Die verdagte sal na verwagting aangekla word nadat hy die nodige mediese behandeling ontvang het.