Brekende Nuus
Nuus

RTI-beampte sterf in brandende voertuig langs N2 by Park Rynie

Foto: Violie Simpson

KWAZULU-NATAL. – Timothy Simpson, ’n provinsiale inspekteur van die Padverkeersinspektoraat (RTI), het Dinsdagaand gesterf nadat ’n staatsvoertuig waarin hy aan diens was, omstreeks 20:00 langs die N2 by Park Rynie  aan die brand geslaan het. Die voertuig is heeltemal deur vlamme verswelg en Simpson het in die voertuig doodgebrand.

’n Gespesialiseerde span van die RTI werk saam met die polisie om die omstandighede van sy dood te ondersoek. Siboniso Duma, KwaZulu-Natalse LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê ’n forensiese en meganiese ondersoek word gedoen om vas te stel wat die brand veroorsaak het. ’n RTI-span is na Simpson se familie gestuur, terwyl Zibusiso Dlamini, hoof van die departement en senior bestuur, vandag met die RTI-span by Park Rynie sal vergader en die familie sal besoek. 

Volgens Duma was Simpson ’n gedissiplineerde en hardwerkende beampte wat vir sy diens onderskei is en verskeie toekennings ontvang het.