WES-KAAP. – ’n Wetstoepassingsbeampte van Stad Kaapstad het by ’n besige kruising in Belhar gestop nadat sy ’n hond wat vermoedelik deur ’n voertuig raakgery is, in die pad sien lê het. Senior inspekteur Deirdre Thomas het die dier gaan ondersoek en vasgestel dat dit reeds dood was. Sy het die hond uit die pad van aankomende verkeer verskuif en die Kaap die Goeie Hoop-DBV in kennis gestel sodat dit op ’n gepaste wyse verwyder kon word.
Wat die voorval besonders maak, is dat Thomas op pad was na die gedenkdiens van haar beste vriend toe sy die hond opgemerk het. ’n Lid van die publiek het haar stil optrede by die kruising van Symphonyweg en Accordionstraat afgeneem en dit met die DBV gedeel.
Volgens die DBV is Thomas bekend vir haar omgee-houding teenoor mense, kinders en diere. Die DBV het haar bedank omdat sy, ondanks haar eie hartseer, die dier nie bloot in die pad laat lê het nie.