GAUTENG. – Vier beskuldigdes het op aanklagte wat verband hou met ’n beweerde bedrieglike huurooreenkoms vir ’n eiendom in Waterkloof Heights in die Pretoria-landdroshof verskyn. Vusumuzi Matlala (50) wat vir verskeie sake in die hof verskyn, sy vrou, Tsakani Matlala (38), Claudette Masethe (31) en Given Makofane (46), staan tereg op twee aanklagte van bedrog, twee van uitgifte van ‘n vervalste dokument en een van vervalsing.
Lumka Mahanjana, NVG-streekswoordvoerder, sê Vusumuzi Matlala word ook aangekla van die oortreding van die Identifikasiewet. Volgens die NVG het die vier beskuldigdes na bewering gedurende Januarie 2025 met die gemeenskaplike doel opgetree deur dokumente te vervals om deur ’n eiendomsagent ’n huurooreenkoms vir die eiendom te bekom. Verder word beweer Matlala was tussen 13 en 21 Januarie 2025 onregmatig in besit van ’n ID wat in die naam van Vusumuzi Dlamini uitgereik is en wat na bewering voorgegee het dat hy met die koningshuis van Eswatini verbind is, met die doel om die huurkontrak te bekom.
Matlala het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie, terwyl die staat nie die borgtog van die ander drie beskuldigdes teengestaan het nie. Masethe, Makofane en Tsakani Matlala is elk op borgtog van R20 000 vrygelaat, met voorwaardes dat hulle nie met staatsgetuies kontak mag maak nie, by hul naaste polisiestasie moet aanmeld, hul paspoorte aan die ondersoekbeampte moet oorhandig en die ondersoekbeampte in kennis moet stel indien hulle buite die provinsie wil reis.
Die staat beoog om Vusumuzi Matlala se borgtogaansoek teen te staan wanneer dit op 14 en 15 Oktober aangehoor word. Die saak teen die ander drie beskuldigdes is vir verdere ondersoek tot 29 Oktober uitgestel.
Buiten hierdie saak verskyn Vusumuzi Matlala ook in drie ander strafsake. Hy en vier medebeskuldigdes staan in die Johannesburg-hooggeregshof tereg op 25 aanklagte wat verband hou met drie beweerde skietvoorvalle tussen Augustus 2022 en Januarie 2024. Matlala word onder meer aangekla van 11 klagtes van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en geldwassery. Hy is ook saam met sy maatskappye in die Germiston-landdroshof op aanklagte van onder meer korrupsie, bedrog en regsverydeling, wat verband hou met die beweerde onwettige gebruik van blouligte. Daarbenewens staan hy tereg in die Pretoria-streekhof in die Medicare24-korrupsiesaak oor die beweerde onreëlmatige SAPD-kontrak van R228 miljoen.