Brekende Nuus
Nuus

NSRI waarsku oor sterk springgety

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) waarsku strandgangers, hengelaars en stappers langs die kus om dié naweek ekstra versigtig te wees, aangesien ’n sterk springgety saamval met die skoolvakansie en Erfenisdag-langnaweek.

Andrew Ingram, NSRI-kommunikasiebestuurder, sê families wat gedurende die vakansie kus toe gaan, moet hul aktiwiteite rondom plaaslike gety-tye beplan. Die volmaan is Saterdag 26 September om 18:48, met die grootste getyverskille gewoonlik ’n dag of twee daarna. Die sterkste springgety word daarom van ongeveer Saterdag tot Dinsdag 29 September verwag. 

Die springgety volg kort ná die ewening op 23 September, wanneer getye dikwels van die sterkstes van die jaar is. Sterker skeurstrome, sterk getystrome by riviermondings, hawe-ingange en nou inhamme, asook kuspaadjies wat met hoogwater afgesny kan word, hou volgens die NSRI ekstra gevare in.

Strandgangers word aangeraai om slegs by strande met lewensredders en tussen die vlae te swem en ekstra versigtig te wees wanneer die gety uitgaan. 

Hengelaars wat van rotse af visvang, moet ’n veilige afstand van die water hou, ’n reddingsbaadjie dra en iets saamneem wat kan dryf en na iemand in die water gegooi kan word, soos ’n leë vyfliter-plastiekbottel met ’n tou daaraan. 

Stappers moet hul roetes rondom hoogwater beplan, terwyl bootvaarders en roeiers altyd reddingsbaadjies moet dra en hul selfone in ’n waterdigte sakkie moet hou. Die NSRI raai mense ook aan om nie alkohol te gebruik voordat hulle swem, bootry of visvang nie, om kinders voortdurend naby water dop te hou en versigtig te wees by riviere, damme en mere, veral ná reën.

In ’n noodgeval kan die NSRI se Noodoperasiesentrum by 087 094 9774 of 112 vanaf ’n selfoon geskakel word.