LIMPOPO. – ’n Vrou (77) is Donderdagmiddag in Rita Village in die Maake-polisiëringsgebied doodgesteek. ‘n Verdagte man (45) wat glo met haar moord verbind word, is later dieselfde dag na bewering deur lede van die gemeenskap aangerand en doodgemaak.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie is kort voor 14:00 ingelig van ‘n vrou se dood. Met hul aankoms op die toneel is ‘n vrou met ’n steekwond aan haar bolyf op die grond aangetref. Nooddienste het haar op die toneel dood verklaar.
Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat sy na bewering deur ’n buurman met ‘n skerp voorwerp gesteek is. Die motief is nog nie vasgestel nie. Die polisie het onmiddellik na die verdagte begin soek, maar hy het glo na die nabygeleë berge gevlug toe hy die polisie opmerk.
Omstreeks 19:00 is die polisie ingelig dat gemeenskapslede hom na bewering in Rita Village opgespoor en aangerand het. Die polisie het hom met hul aankoms bewegingloos met sigbare beserings aangetref. Nooddienste het hom op die toneel dood verklaar.
Die polisie ondersoek nou die omstandighede van beide die sterftes. Lt.genl. Jan Scheepers, Limpopo-polisiekommissaris, het die moorde, asook die beweerde geval van gepeupelreg, veroordeel en gemeenskappe gemaan om nie die reg in eie hande te neem nie. Eniegiemand wat oor inligting beskik wat met die ondersoeke kan help, kan sers. Khanyisa Chauke by 082 319 9742 bel.