Brekende Nuus
Nuus

Dianty sterf ná moedige stryd teen kanker

Foto: Laerskool Randfontein

GAUTENG. – Dianty da Silva (5), wat sedert die ouderdom van drie teen B-sel ALL-leukemie geveg het, is oorlede.

Laerskool Randfontein het gister hulle medelye met Dianty se familie op sosiale media gedeel en in ’n boodskap gesê die skool dink met liefde aan die familie in hierdie “hartseer en moeilike tyd.” In die boodskap het die skool gesê daar word gebid dat die Here sy arms styf om elkeen sal vou en hulle met sy liefde en genade, asook krag, troos en vrede sal omring. “Ons bid vir julle,” het die skool afgesluit.

Dianty het op 13 Mei vanjaar haar vyfde verjaardag gevier. Haar ma, Dina da Silva, het gereeld plasings oor haar dogter se kankerstryd gedeel. Dianty is op driejarige ouderdom met B-sel ALL-leukemie gediagnoseer en het intensiewe behandeling en ’n beenmurgoorplanting ondergaan. Da Silva het op 1 September, met Kinderkankerbewustheidsmaaand, geskryf dat Dianty reeds vier keer ‘n terugslag beleef het. 

Op 25 Junie het Da Silva gedeel dat Dianty se dokter en professor bevestig het dat daar in daardie stadium geen tekens van kanker in haar beenmurg of spinale vloeistof was nie en dat sy in remissie was. “Ná alles wat sy al deurgemaak het, voel hierdie soos ’n asem van genade en hoop,” het sy geskryf. Op 3 Augustus het die familie egter gehoor dat Dianty ná haar beenmurgoorplanting weer teruggeval het. In ’n emosionele plasing op 7 Augustus het Da Silva geskryf: “Ek het nie woorde nie,” en gevra dat God net by haar moet sit “tot ek weer kan asemhaal”. Sy het gesê: “Ek glo steeds in wonderwerke al was dit teruggevat,” en gevra: “Hou asb. net my kind vas Here. GENEES HAAR ASB!!!!!!!” Sy het ook beklemtoon dat Dianty nie gevra het om ’n “warrior” of “klein vegter” te wees nie, maar “net ’n kind” is wat weer ’n kind wou wees.

Da Silva het op 20 Augustus vertel hoe Dianty op 7 Augustus in die hospitaal opgeneem is en op 9 Augustus met behandeling begin het. Sy het twee verskillende chemoterapiebehandelings per dag ontvang en op die derde dag drie verskillende behandelings gekry. Die behandeling, wat aanvanklik vir sewe dae beplan is, is ná drie dae gestaak nadat Dianty baie siek geword het. Volgens haar ma het haar lewer nie behoorlik gefunksioneer nie en het inflammasie en ’n reaksie van haar immuunstelsel tot ’n ernstige verswakking in haar toestand gelei. Haar suurstofvlakke en hartklop het later drasties gedaal en ’n dokter het die familie gevra om na haar toe te kom. 

Dianty se toestand het daarna volgens haar ma begin verbeter. “Sy het stadig maar seker haar fight teruggekry,” het Da Silva geskryf. Sy het vertel hoe haar dogter weer begin loop, eet en lag het en dat ’n dokter die verbetering as “’n wonderwerk” beskryf het.

Da Silva het gedurende September steeds oor haar dogter se gesondheid geskryf. In die foto-album met die naam “Dinamite Dianty” is gereeld foto’s gedeel van die dogtertjie met mooi kopbande wat gehelp het om haar haarverlies te bedek. In een van haar onlangse plasings het Da Silva geskryf: “Die Here weet … ek sal aanhou bid en aanhou glo vir wonderwerk op wonderwerk.” Kort daarna het sy oor haar liefde vir haar dogter geskryf: “Ek het jou so… so… so… bitterlik, inniglik, onmenslik, oneindig lief Dianty.”

Foto: Dina da Silva