GAUTENG. – Motoriste op die R80 Mabopane-snelweg het Maandag in swaar verkeer vasgesit, waartydens ‘n hewige reënbui boonop uitgesak het. ‘n Gedeelte van die pad was gesluit ná ’n skietgeveg waarin drie vermeende transitorowers noodlottig gewond is. ’n Vierde verdagte is in hegtenis geneem.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê ’n multidissiplinêre span bestaande uit die polisie se taktiese reaksiespan, teen-bende-eenheid, Gautengse verkeerslugvleuel en private veiligheidsmaatskappye deur Business Against Crime South Africa het inligting ondersoek oor verdagtes wat na bewering ’n roof beplan het.
Die span het ’n wit Hyundai H1 op die R80 opgemerk en het probeer om dit voor te keer. Die insittendes het na bewering op die polisie losgebrand, waarna die polisie teruggeskiet het. Drie verdagtes is noodlottig gewond. ’n AK-47 en ’n 9 mm-pistool is in die voertuig gevind, terwyl ’n vierde verdagte wat glo saam met die groep gewerk het, in ’n Toyota Avanza in hegtenis geneem is. ’n 9 mm-pistool is ook by hom gevind. Forensiese deskundiges verwerk die toneel en die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word.
Die Tshwane-metropolisie (TMPD) het motoriste wat weens die aktiewe misdaadtoneel in swaar verkeer gesit het, gewaarsku dat die R80 by Eskia Mphahlele-rylaan en die Bremerstraat-oprit na die R80 gesluit was.

Foto: SAPD