GAUTENG. – Altesaam 121 vermeende onwettige mynwerkers is in hegtenis geneem en vyf vuurwapens is tydens Operation Prosper/Karabo by Mphahla-nedersetting in die Fochville-polisiëringsgebied teruggevind.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê verskeie eenhede van die polisie in Gauteng het saam met lede van die weermag, die Valke, immigrasiebeamptes van die departement van binnelandse sake en Sibanye-Stillwater se taktiese veiligheidspan aan die operasie deelgeneem. Die operasie het omstreeks 03:00 vanoggend begin, waarna weermaglede die gebied afgesper het, voordat polisie en die myn se taktiese veiligheidspan ingegaan het.
Vyf vuurwapens, waaronder drie pistole, ’n AK-47-geweer en ’n selfgemaakte pistool, asook ammunisie, is teruggevind. Die polisie het ook toerusting wat met onwettige mynbou verband hou, insluitend phendukas, gassilinders en goudhoudende materiaal, gekonfiskeer. Operation Prosper word voortgesit as deel van pogings om onwettige mynbou en verwante misdaad in Gauteng te teiken.



Foto’s: Google Maps