Brekende Nuus
Nuus

Nog ’n man met skietwonde by Mashobote gevind

Foto's: SAPD

MPUMALANGA. – Nog ’n man se liggaam is Donderdagoggend omstreeks 06:00 langs die N4 by Mashobote, naby Schoemanskloof, gevind. Die liggaam het verskeie skietwonde gehad en verskeie patroondoppies van ’n geweer en pistool is op die toneel gevind.

Die polisie vermoed die moord hou moontlik verband met die voortslepende konflik tussen mededingende groepe onwettige mynwerkers in die gebied. Die man se identiteit is nog nie bekend nie, maar hy is vermoedelik ’n buitelander. ’n Moordsaak is vir ondersoek geopen. Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê die jongste ontdekking volg nadat die liggaam van nog ‘n man Woensdagoggend in dieselfde gebied gevind is.

Die polisie het Dinsdag berigte ontvang van ’n skietvoorval waarby vermeende onwettige mynwerkers glo betrokke was. Met hul aankoms kon die polisie aanvanklik net bloedspore op die toneel vind. Later is twee lewendige patrone en ’n leë AK-47-magasyn in die gebied opgetel. Lt.genl. Apaphia Modise, provinsiale polisiekommissaris, het ’n span ervare speurders aangestel om die omstandighede van die sterftes te ondersoek. Die polisie het hul sigbaarheid in die gebied verskerp.