Brekende Nuus
Nuus

14-jarige tweeling doodgesteek – ma kom op liggame af

Foto: Verskaf aan Daily Sun

GAUTENG. – Die 14-jarige tweeling Bonolo en Bohlale Makena is Vrydag in hul huis in Mamelodi-Wes, Tshwane, doodgesteek. Merriam Makgopa Makena, die tweeling se ma, het ná werk op hulle liggame in hul slaapkamer afgekom.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die polisie is op 2 Oktober na die huis ontbied waar hulle die lewelose liggame van die tweeling met veelvuldige steekwonde aangetref het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die omstandighede rondom die moorde word ondersoek.

Daily Sun berig dat drie selfone glo uit die huis gesteel is. Die publikasie berig ook dat die polisie ’n leidraad opvolg. Nevhuhulwi het volgens SABC News gesê daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die huis nie, maar dat sy nie verdere besonderhede oor die ondersoek kan bekend maak nie omdat dit die ondersoek kan benadeel.

Enige persoon met inligting wat die polisie met die ondersoek kan help, word versoek om dit aan te meld.

Bronne: SAPD, Daily Sun, SABC News