Brekende Nuus
Nuus

Gypsy Rose Blanchard se voormalige verloofde dood

Foto: Gypsy Rose Blanchard en CHANGE.ORG

VSA. – Ken Urker (34), Gypsy Rose Blanchard se voormalige verloofde en die pa van haar dogter, is op 1 Oktober, sy 34ste verjaardag, dood by sy huis in Raceland, Louisiana, aangetref. Blanchard het bekend geraak nadat haar ma, Dee Dee Blanchard, in 2015 in Missouri vermoor is, Gypsy Rose skuld beken het en tronkstraf uitgedien het.

“Staan asseblief by my – vir hom, vir haar en vir ons. Ek het net my dogter en my stem, en ek sal alles in my vermoë doen om aan te hou veg vir hom. Hy het my meedoënloos teen aanlyn haters verdedig. Nou is dit my beurt om nie net hom te verdedig nie, maar hom ook te bemagtig,” sê Blanchard op sosiale media by ‘n plasing van CHANGE.ORG. se petisie teen aanlyn afknouery.

Die oorsaak van Urker se dood is nog nie amptelik vasgestel nie. Gypsy Rose het ná sy dood gesê sy glo hy het aan ’n oordosis gesterf. Volgens die baljukantoor van Lafourche Parish is hy dood aangetref nadat familielede bekommerd geraak het toe hulle hom nie kon bereik nie. Volgens die polisie was daar geen tekens van vuilspel nie. 

Toebehore wat met dwelms verband hou, sowel as ’n bruin poeieragtige middel is in die woning gevind. Toksikologie-uitslae is nodig voordat ’n finale doodsoorsaak bepaal kan word. 

Urker en Blanchard het mekaar in 2017 ontmoet terwyl sy in die tronk was en het later verloof geraak. Ná die beëindiging van hulle verhouding het hulle ná haar vrylating weer kontak gemaak en in Desember 2024 ’n dogter, Aurora, gehad.

Blanchard het haar ma, Dee Dee Blanchard, in 2015 in Missouri vermoor. Sy het skuld beken aan tweedegraadse moord nadat sy haar destydse kêrel, Nicholas Godejohn, gehelp het om die moord te beplan. Sy het aangevoer dat haar ma haar jare lank mishandel en voorgegee het dat sy ernstig siek is. Sy is in 2016 tot tien jaar tronkstraf gevonnis en is ná sowat agt jaar op parool vrygelaat. Godejohn is later aan eerstegraadse moord skuldig bevind en dien ’n lewenslange vonnis uit.

Urker se dood het intussen nuwe aandag op Gypsy Rose se lewe ná haar vrylating gevestig. Sy het ná sy dood ’n beroep op mense gedoen om aanlyn teistering te beveg, maar die owerhede het nog geen verband tussen sodanige teistering en sy dood bevestig nie.

The Act (2019) is die bekende dramareeks oor Gypsy Rose en Dee Dee, waarin Joey King Gypsy Rose en Patricia Arquette die rol van Dee Dee speel. Dit is op die ware gebeure gebaseer. Mommy Dead and Dearest (2017) is ’n dokumentêr wat die werklike moordsaak, Gypsy se verhouding met haar ma, die beweerde mishandeling en die gebeure rondom Dee Dee se dood ondersoek. Gypsy Rose verskyn self in die dokumentêr. The Prison Confessions of Gypsy Rose Blanchard (2024) is ’n Lifetime- dokumentêre reeks waarin Gypsy self haar verhaal vertel, oor haar kinderjare, haar verhouding met haar ma en die gebeure wat tot die moord gelei het. 

Bronne: CBS News, People, People, NBC NewsABC News – Gypsy Rose se vrylating uit die tronk