Brekende Nuus
Nuus

Lucky sterf nadat hy uit dreinpyp gered is

Foto's: Kaap die Goeie Hoop DBV

WES-KAAP. – ’n Klein katjie wat ná ‘n sewe ure lange redding uit ‘n dreinpyp in Epping gehaal is, het later as gevolg van sy verswakte toestand beswyk.

Die Kaap die Goeie Hoop-DBV sê sy reddingspan het saam met die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens gewerk en gespesialiseerde kameratoerusting gebruik om vas te stel waar Lucky vasgekeer was. Ná ’n sewe uur lange reddingspoging is hy uit die pyp gehaal en onmiddellik medies ondersoek. 

Hy is warm gehou en versorg, maar sy toestand het later versleg en hy het Dinsdagaand gesterf. Volgens die DBV was die sewe uur lange reddingspoging nie tevergeefs nie, omdat Lucky sy laaste ure veilig en versorg deurgebring het en nie alleen in die koue, donker dreinpyp was nie. Die organisasie het die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens, asook SAAWIA en TAH-dierehospitaal bedank vir hul hulp. Hulde is ook gebring aan opleidingsinspekteur De Vos, kadet Baker en inspekteur Rodney, wat sewe uur lank gewerk het om die klein katjie te bevry.