Brekende Nuus
Nuus

4 mans dood in skietery met polisie

Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – Vier mans is dood nadat ’n vermeende plan vir ‘n roof Dinsdagaand in Kwadwesi ontwrig is en ’n skietery tussen die polisie en die insittendes van ’n verdagte voertuig uitgebreek het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 20:00 in Mtshekisanistraat plaasgevind. Beamptes van die polisie se Motherwell- taktiese reaksie-eenheid was op patrollie toe hulle ’n verdagte voertuig opmerk. Die insittendes het na bewering op die polisie losgebrand toe hulle genader is, waarna die polisie teruggeskiet het. Vier mans is in die skietery gewond en op die toneel dood verklaar. Geen polisiebeamptes is beseer nie.

Die polisie het twee ongelisensieerde 9 mm- Norinco-vuurwapens met afgevylde reeksnommers, asook ’n speelgoedwapen, op die toneel gevind. Die voertuig is vir verdere ondersoek in beslag geneem.

Kwadwesi-polisie ondersoek ‘n geregtelike doodsondersoek, poging tot moord en aanval op die polisie. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is in kennis gestel en sal die vier sterftes ondersoek.