MPUMALANGA. – ’n 71-jarige man en ’n 32-jarige vrou is in hegtenis geneem nadat die Valke tydens ’n multidissiplinêre operasie ’n daggaplantasie, verwerkte dagga-ekstrak, twee gewere, twee handwapens en ’n groot hoeveelheid lewendige ammunisie op ’n plaas buite Nelspruit ontdek het.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê die operasie is Woensdag uitgevoer nadat die Valke inligting ontvang het dat dagga na bewering op ’n plaas in die Nelspruit-gebied verbou en besit word. ’n Deursoeking van die perseel het gevolg waartydens die ontdekking gemaak is. Die twee verdagtes staan tereg op aanklagte ingevolge die vuurwapenbeheerwet, asook die dwelmwet, insluitend die verbouing en besit van dagga.
Hulle sal na verwagting vandag, (Donderdag) in die Nelspruit-distrikshof voorkom. Verdere aanklagte is nie uitgesluit nie.


