Brekende Nuus
Nuus

Nuwe register moet ongewenste bemarkingsoproepe en SMS’e stop

Foto: Ter illustrasie

Suid-Afrikaanse verbruikers kan nou voordeel trek uit ’n nuwe Nasionale Opt-Out-register waarmee ongewenste direkte bemarkingsoproepe, SMS’e en ander elektroniese bemarkingskommunikasie uiteindelik geblokkeer kan word. Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het die register Woensdag as ’n gratis, staatsbeheerde stelsel bekend gestel.

Phetho Ntaba, NVK-woordvoerder, sê die register word ingevolge artikel 11 van die Verbruikersbeskermingswet ingestel nadat Parks Tau, die minister van handel, nywerheid en mededinging, vanjaar die wysigingsregulasies afgekondig het. 

Direkte bemarkers moet op die stelsel registreer en hul bemarkingslyste maandeliks skoonmaak voordat ’n bemarkingsveldtog van stapel gestuur word. Die eerste fase, wat registrasie behels, het op 15 September begin en duur tot Desember 2026. Die tweede fase, waarin bemarkers vyf maande van Desember tot April 2027 kry om hul bemarkingslyste gratis skoon te maak, volg daarna. Vanaf Mei 2027 sal verbruikers wat op die register geregistreer is, direkte bemarkers vooraf kan blokkeer om ongewenste bemarkingskommunikasie te stuur.

Die NVK sê die behoefte aan die register is groot. Volgens Truecaller se 2026 Suid-Afrika Spam-verslag het Suid-Afrikaners tussen Januarie en Junie vanjaar 17,47 miljard smousoproepe ontvang, terwyl smous-SMS’e met 58,9% tot 3,71 miljard toegeneem het. 

Hardin Ratshisusu, waarnemende kommissaris van die NVK, sê die register sal verantwoordelike direkte bemarking bevorder en verbruikers beter teen ongewenste oproepe, boodskappe, e-posse en ander elektroniese kommunikasie beskerm.

Druk hier om meer te lees.