Brekende Nuus
Nuus

Nuwe video wys wat 6-jarige ná skietery op onderwyser gesê het

Foto: Skermgreep van video-opname WAND NEWS

VSA. – Nuwe liggaamskamera-beeldmateriaal het onthul wat ’n 6-jarige seun kort ná hy sy onderwyser, Abby Zwerner, in 2023 in ’n klaskamer in Virginia geskiet het, aan polisielede gesê het. Die seun het onder meer erken dat hy die 9 mm-pistool van sy ma gesteel het. Die video is eers vandeesweek openbaar gemaak nadat dit deur ’n hofbevel ontseël is.

Die seun het sy onderwyser in die hand en bors geskiet.  Zwerner het ernstige beserings opgedoen, maar het oorleef. Geen leerlinge is in die skietery beseer nie.

Brian Torrez, ’n polisiebeampte wat op die toneel was, se liggaamskamera wys hoe lees-spesialis Amy Kovac die kind vashou wanneer polisiebeamptes die Richneck Elementary School-klaskamer in Newport News binnestap. Die seun, wat in hofstukke slegs as J.T. geïdentifiseer word, het volgens die beeldmateriaal volwassenes en die polisie herhaaldelik gevloek en hulle uitgedaag. Hy het onder meer gesê hy het die vuurwapen van sy ma gesteel. 

Die video is tydens die strafregtelike verhoor van die voormalige assistenthoof, Ebony Parker, as bewysstuk gebruik. Die Virginian Pilot en Daily Press het die verseëling daarvan in die hof betwis, waarna die regter beveel het dat die beeldmateriaal openbaar gemaak word, mits die kind se gesig nie duidelik sigbaar is nie. Die seun is weens sy ouderdom nie strafregtelik aangekla nie. Sy ma het intussen skuldig gepleit op ’n aanklag van ernstige kinderverwaarlosing en is gevangenisstraf opgelê. Zwerner het later ’n siviele saak teen Parker gewen en skadevergoeding van $10 miljoen ontvang.

Bronne: CNN, The Virginian Pilot, Daily Press