WES-KAAP. – Action Society eis ’n dringende hersiening op senior vlak van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om die aanklagte teen Jacques Pretorius terug te trek. Die besluit is Maandag 5 Oktober geneem, die dag waarop sy verhoor in die Kaapstadse hooggeregshof sou begin oor die moord op sy vrou, Sheri-Ann Jacobs.
Jacobs se familie wag al byna vyf jaar op antwoorde en word nou deur die moontlikheid in die gesig gestaar dat die vervolging kan misluk voordat die getuienis tydens ’n verhoor getoets is. Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society, sê Jacobs se pa het die organisasie meegedeel dat die NVG hom ingelig het dat die aanklagte teruggetrek word omdat die staat se pataloog nie meer bereid is om teen die verdedigingspan se deskundige getuie wil getuig nie.
Jacobs is op 20 November 2021 oorlede, kort ná haar huwelik met Pretorius. Haar dood is aanvanklik as vermoedelike selfdood ondersoek, terwyl haar familie volgehou het dat die toneel moontlik opgestel is.
Pretorius is in Maart 2025 in hegtenis geneem nadat nuwe forensiese getuienis na bewering daarop gedui het dat Jacobs verwurg is en die toneel vervals is. Hy is aangekla van onder meer moord met voorbedagte rade en regsverydeling. Action Society eis nou dat ’n senior aanklaer die volledige dossier, die oorspronklike en hersiene forensiese menings en die oorblywende getuienis dringend hersien. Die organisasie wil ook weet wat in die forensiese beoordeling verander het en of ’n onafhanklike deskundige beoordeling gedoen is.