MPUMALANGA. – Die Hooggeregshof het ’n bevel toegestaan dat R7 000 wat aan polisiebeamptes as omkoopgeld aangebied is, aan die staat verbeurd verklaar word. Die geld is in Maart 2020 deur Emmanuel Gumede aangebied in ’n poging om sy broers se dagga-saak te laat verdwyn.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê beamptes van die Piet Retief-misdaadvoorkomingseenheid het op 20 Maart 2020 padkontroles en deursoekings uitgevoer toe Gumede hulle genader het. Hy wou oor sy broers se inhegtenisneming weens die besit van dagga praat en het glo gevra dat die polisie die dagga teruggee en die saakdossier laat verdwyn. Hy het R7 000 aangebied om die beamptes te beïnvloed, maar hulle het die aanbod van die hand gewys en hom op aanklag van omkopery in hegtenis geneem. Die geld is as bewysstuk geregistreer en is nou ná ’n suksesvolle aansoek verbeurd verklaar.
Die Valke waarsku dat omkoopgeld nie ’n manier is om ’n strafsaak te laat verdwyn nie. Pogings om polisiebeamptes om te koop om iemand se vrylating te bewerkstellig, bewyse te verberg of ’n ondersoek te beïnvloed, kan tot verdere strafregtelike gevolge lei. Polisiebeamptes word ook aangemoedig om korrupte toenaderings aan te meld.