Brekende Nuus
Nuus

Karlien van Jaarsveld se nuwe enkelsnit ‘Bly’ het ironiese boodskap

Foto: Fanie Nel

Karlien van Jaarsveld is terug met haar jongste enkelsnit, Bly, wat gaan oor verhoudings waarin mense herhaaldelik probeer om dinge reg te maak, maar uiteindelik moet erken dat dit nie meer werk nie.

Fanie Nel van die Coleske Groep sê die liedjie bied ’n eerlike blik op verhoudings en die oomblik wanneer ’n mens besef dat nóg ’n poging nie noodwendig die antwoord is nie.

Die liedjie, wat Karlien self geskryf het, fokus op die moeilike besluit om weg te stap wanneer dit tyd is om ’n verhouding agter te laat. Karlien verduidelik die boodskap met die woorde: “As daar iemand agter jou staan en skree Bly, is dit tyd om te hardloop.”

Die titel kry dus ’n ironiese betekenis: die liedjie gaan nie bloot daaroor om op te gee nie, maar oor die keuse om jouself eerste te stel wanneer ’n verhouding nie meer werk nie. Dit volg op Karlien se vorige musiek, waaronder As Jy My Roep en Oor Mekaar, wat sy saam met Zaan Sonnekus uitgereik het.