Brekende Nuus
Nuus

Ouma kry 20 jaar tronkstraf vir dood van 3 agterkleinkinders

Foto: WAAR Brandit INNI KAAP

WES-KAAP. – Susara Johanna de Villiers (71) is deur die Worcester-streekhof tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die voorafbeplande moord op haar drie agterkleinkinders. Caleb (8), Gradwell (5) en Joshua (2) is op 20 November 2021 dood toe die voertuig waarin hulle saam met De Villiers gery het, by die Bainskloofpas teen die berg afgery en in ’n rivierbedding beland het. De Villiers het die ongeluk oorleef.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê De Villiers is skuldig bevind aan al drie moorde. Sy is op elke aanklag tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis, maar die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word. Dit beteken sy moet effektief 20 jaar tronkstraf uitdien. 

Volgens getuienis in die hof het De Villiers die kinders op die dag van die voorval by haar huis opgepas terwyl hul versorger by ’n troue was. Die kinders het geswem en gespeel. Sy het hulle laatmiddag in haar voertuig laat klim om hulle glo na hul versorger terug te neem. Die kinders het gehuil en gesmeek om by haar te bly. Sy het hulle gevra om hulle oupagrootjie te groet en gesê niemand sal hulle weer seermaak nie.

Aanklaer Cornelius Prinsloo het aangevoer dat De Villiers sowat 23 km na die Bainskloofpas in die teenoorgestelde rigting van die kinders se huis gery het. Sy het verskeie verkeersbeheerpunte verbygesteek voordat sy deur ’n opening in die versperrings gery het. Die voertuig het teen die berg afgeslinger. De Villiers het ’n veiligheidsgordel gedra, maar die kinders was nie vasgegordel nie. Al drie het aan veelvuldige stompgeweldbeserings beswyk. 

De Villiers het aanvanklik ingevolge die Strafproseswet skuldig gepleit, maar die aanklaer het nie haar bewering aanvaar dat sy weens haar geestestoestand nie ten volle verantwoordelik vir haar dade was nie. Die hof het daarom ’n onskuldig-pleit namens haar aangeteken oor dié deel van haar verduideliking, terwyl die res as formele erkennings aanvaar is. 

Tydens haar getuienis in November 2025 het De Villiers gesê dit het gevoel asof iets in haar “afgeskakel” het en dat sy nie seker was presies wanneer sy die besluit geneem het nie. Sy is vir 30 dae se geesteswaarneming na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal verwys waar bevind is dat sy geskik was om verhoor te word, die verkeerdheid van haar optrede kon besef en daarvolgens kon optree. Die paneel het geen bewyse van psigose gevind nie. De Villiers het nie die bevindings betwis nie.

Die hof het ook gehoor dat die kinders vroeër uit hul ouers se sorg verwyder is weens verwaarlosing en middelmisbruik. Hulle het aanvanklik sowat drie maande by De Villiers en haar man gewoon voordat hulle by ’n familielid aan moederskant geplaas is. Ongeveer ’n week voor die ongeluk is die kinders se ma en haar lewensmaat in hegtenis geneem op aanklagte wat met kinderverwaarlosing verband hou. Ter versagting van vonnis het De Villiers oor haar moeilike kinderjare, armoede en drie selfdoodpogings tydens haar adolessensie getuig. Sy het ook vertel van ’n motorongeluk in Januarie 2020 waarin sy en haar stiefdogter betrokke was. Haar stiefdogter is later dood aan brandwonde wat sy in die ongeluk opgedoen het. De Villiers het gesê sy het daarna aan depressie gely en beperkte behandeling ontvang.

Prinsloo het aangevoer dat dié persoonlike omstandighede nie die erns van die drie voorafbeplande moorde kon oorskadu nie. Die NVG het die werk van AO Michael Pretorius, die ondersoekbeampte en Prinsloo geprys en gesê die deeglike ondersoek na De Villiers se pleitverduideliking het die staat se saak versterk.