Brekende Nuus
Nuus

SS Hexvallei rou oor dood van graad 9-leerling

Foto: Hevallei Sekondêre Skool

WES-KAAP. – Sekondêre Skool Hexvallei rou oor die dood van Frederico Konstabel (14), ’n gr. 9-leerling wat volgens die skool Donderdagaand oorlede is. Volgens die Son Koerant het ‘n vragmotor glo ‘n matrikulant vir die matriekafskeid afgelaai, waarna kinders aan die vragmotor gehang het. Konstabel het glo sy greep verloor en onder die wiele beland.

Die skool se bestuur, personeel en leerders het hul medelye in ’n boodskap op sosiale media met Frederico se familie, vriende en klasmaats uitgespreek. Die skool beskryf sy dood as ’n groot verlies vir die skoolgemeenskap en sê herinneringe aan hom sal voortleef in die harte van dié wat hom geken het. Die omstandighede van Frederico se dood is nie in die skool se boodskap bekend gemaak nie.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie omstreeks 19:40 in  Glencoweg, De Doorns, ’n saak van strafbare manslag vir ondersoek geregistreer het. Die omstandighede van die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lees die skool se volledige boodskap hier onder:

Liewe ouers/voogde, leerders en lede van die gemeenskap,

met diep hartseer neem Hexvallei Sekondêre Skool afskeid van ons geliefde Graad 9-leerder, Frederico Konstabel, wat gisteraand op ‘n tragiese en skielike wyse deur die dood van ons weggeneem is.

Woorde skiet tekort om die hartseer van hierdie ondenkbare verlies te beskryf. Die heengaan van ’n jong lewe laat ’n leemte wat nie maklik gevul sal word nie. Ons harte is seer en ons gedagtes en gebede is in hierdie uiters moeilike tyd by Frederico se familie, vriende, klasmaats, onderwysers en almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.

Mag julle krag vind wanneer die hartseer oorweldigend voel, vertroosting vind in die mooi herinneringe en vrede ervaar te midde van die pyn. Mag julle weet dat julle nie alleen deur hierdie moeilike tyd hoef te gaan nie.

Frederico, jou lewe was kosbaar, en jou heengaan laat ’n diep leemte in ons skoolgemeenskap. Al is jou tyd saam met ons te vroeg beëindig, sal jou herinnering voortleef in die harte van dié wat jou geken het.

Rus sag, Frederico. 🕊️

“Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” – Psalm 34:19

Met innige meegevoel,

Die Bestuur, personeel en leerders van Hexvallei Sekondêr

Bronne: SAPD, Hexvallei Sekondêre Skool, De Savior TV, Son