GAUTENG. – Barbara Creecy, minister van vervoer, sal vandag (Donderdag) die herstel en verbetering van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se treindienste op die Mabopane-spoorroete besoek. Die besoek sluit ’n inspeksie van die sentrale treinkontrolesentrum en die spoorinfrastruktuur in, waarna die nuwe City to City-busvloot amptelik bekend gestel sal word.
Collen Msibi, nasionale woordvoerder van die departement van vervoer, sê die werk aan die Mabopane-roete sluit opgraderings aan die seinstelsels en spoorinfrastruktuur in, asook verbeterings wat daarop gemik is om veiligheid te verhoog en treine meer gereeld te laat ry. Die blou-en-wit treine, bekend as Isitimela Sabantu, vorm deel van Prasa se pogings om pendeldienste veiliger, meer betroubaar en bekostigbaar te maak. Die nuwe City to City-busvloot maak deel uit van die agentskap se langafstandpassasiersdienste.
Die besoek vind plaas as deel van Vervoermaand in Oktober, wat vanjaar fokus op die bou van ’n veilige, volhoubare, betroubare en bekostigbare vervoerstelsel.