Brekende Nuus
Nuus

Katlehong-skietery – beskuldigde vir 4 moorde in hof

Foto: NVG

GAUTENG. – Fani John Sibeko (46), wat daarvan beskuldig word dat hy vier mense doodgeskiet en drie ander gewond het, het in die Palmridge-landdroshof verskyn. Die skietery het Dinsdag in Katlehong-Noord plaasgevind toe ’n groep ANC-ondersteuners van ’n gedenkdiens vir die oorlede raadslid Jeanese Magugu by die Primêre Skool Mogobeng teruggekeer het.

Die oorledenes is as Nqobile Faneli (23), Njabulo Ngcongo (23), Zanga Bingwa (21) en Yonwaba Tunce (27) geïdentifiseer. Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Sibeko staan tereg op vier aanklagte van moord, drie van poging tot moord, asook aanklagte van die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek en die versuim om ’n vuurwapen veilig te bewaar.

Volgens die staat het ’n man in ’n motor die groep genader en na bewering eers skote in die lug geskiet, voordat hy verskeie skote na die mense geskiet het. Sibeko het hom ná die voorval na bewering aan die polisie oorgegee en bly in aanhouding. Die saak is aan die Gautengse taakspan vir politieke moorde toegewys vir verdere ondersoek.

Die staat het sewe dae gevra om verdere ondersoeke vir die borgtogaansoek af te handel, gevolglik is die saak tot 22 Oktober uitgestel.