Brekende Nuus
Nuus

Vrou lê klag teen polisiebeamptes – saak glo sonder ondersoek gesluit

Foto: AfriForum Privaatvervolgingseenheid

GAUTENG. – Emmah Mailula, ’n slagoffer van beweerde geslagsgebaseerde geweld, het ’n klag van dwarsboming van die gereg teen twee polisiebeamptes ingedien nadat haar aanrandingsaak glo gesluit is sonder dat die nodige ondersoek afgehandel is.

Mailula is op 11 April vanjaar na bewering by haar huis in Mamelodi aangerand en het ernstige gesigbeserings opgedoen. Sy het die voorval by die polisie aangemeld, maar is later per SMS meegedeel dat die saak deur die hof van die hand gewys en die dossier gesluit is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het haar ondersteun toe sy die nuwe klag by die Mamelodi-Oos-polisiekantoor ingedien het.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid het by die senior openbare vervolger by die Mamelodi-landdroshof navraag gedoen oor die hantering van die saak. Volgens die vervolger het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie geweier om die saak te vervolg nie, maar reeds op 22 April versoek dat verdere ondersoek gedoen word.

AfriForum sê die ondersoekbeampte was daarna vir drie maande op ’n opleidingskursus, waarna ’n ander beampte glo versoek het dat ’n kolonel die dossier sluit. Die dossier is as “teruggetrek” gemerk en het in die polisiestasie se stoor beland.

Bateman sê die polisie het nie die bevoegdheid gehad om die saak op dié wyse te sluit nie, aangesien die besluit oor vervolging by die NVG berus. Die klag teen die twee beamptes moet nog ondersoek word.

Mailula het ná die indiening van die klag gesê sy voel die strafregstelsel het haar in die steek gelaat omdat sy geen terugvoer oor haar saak ontvang het nie. Sy sê sy het haar tot AfriForum gewend omdat sy nie meer vertroue gehad het in die manier waarop die polisie die saak hanteer het nie. AfriForum sê die eenheid sal met die SAPD en NVG skakel om te verseker dat die aangeleentheid behoorlik ondersoek word.

Druk hier om meer te lees.