Die Haven-nagskuiling in Kensington kan nou 200 mense huisves nadat die Stad Kaapstad R12 miljoen aan opgraderings bestee het. Die getal beddens het van 80 tot 200 toegeneem – ’n styging van 150%.
Burgemeester Geordin Hill-Lewis het die uitgebreide skuiling saam met Francine Higham, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, amptelik geopen. Die Stad besit en onderhou die fasiliteit, wat deur Haven bedryf word.
Opgraderings aan Haven-nagskuiling in Kensington
Die werk het ook die uitbreiding van die kombuis en badkamers, vloerwerk, verfwerk en brandveiligheidsmaatreëls ingesluit.
Volgens Hill-Lewis het die Stad gedurende die huidige ampstermyn sowat 640 beddens by die skuilingnetwerk gevoeg, wat die totaal op meer as 1 300 te staan bring. Dit sluit 340 beddens by die nuwe munisipale Safe Space-fasiliteite in Groenpunt en Durbanville in, asook 300 by uitbreidings aan Haven-skuilings.
Soortgelyke werk is by ander Haven-fasiliteite aangepak. In die middestad het die getal beddens van 96 tot 156 toegeneem, terwyl die Stad ’n uitbreiding in Retreat finansier wat die kapasiteit tot byna 300 beddens sal verdriedubbel.
R100 miljoen om dakloosheid aan te pak
Die Stad het volgens die verklaring R100 miljoen vir die huidige boekjaar bewillig om dakloosheid aan te pak. Hiervan is R87 miljoen bestem vir onder meer die bedryf van sy vier Safe Space-fasiliteite, uitreikwerk, winterondersteuning aan nieregeringsorganisasies se skuilings en werksgeleenthede deur die Uitgebreide Openbarewerkeprogram.
Oor die volgende drie jaar word R62 miljoen vir verdere uitbreidings beplan. Dit sluit ’n nuwe Safe Space in Kuilsrivier, die herontwikkeling van die Paint City-fasiliteit in Bellville en uitbreidings aan Haven-skuilings in Wynberg en Distrik Ses in.
Higham sê dakloosheid is ’n ingewikkelde maatskaplike uitdaging wat meer as slaapplek verg. Ondersteuningsdienste by die fasiliteite sluit onder meer maaltye, toegang tot maatskaplike werkers, vaardigheidsopleiding, hulp met werksoek en identiteitsdokumente, gesinshereniging en toegang tot behandeling vir middelafhanklikheid in.
Bron: Stad Kaapstad