KWAZULU-NATAL. – Die polisie in KwaZulu-Natal ontken bewerings dat lasbriewe vir die inhegtenisneming van leiers van die bewegings March and March en South Africa First Forum uitgereik is. Die polisie sê daar is boonop geen rekord van ’n saak wat teen die twee betrokke individue geregistreer is nie.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die bewerings is ongegrond en kan onnodige paniek onder inwoners veroorsaak. Hy doen ’n beroep op aktiviste om verantwoordelik op te tree en nie uitsprake te maak wat as kwaadwillig of roekeloos beskou kan word of geweld kan aanhits nie. Netshiunda sê enigiemand wat vermoed dat ’n lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik is, behoort die polisie direk te kontak om die feite te bevestig. Hy beklemtoon dat die polisie die wet sonder vooroordeel toepas en nie mense teiken nie.