WES-KAAP. – Die beloning vir inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van die persoon of persone verantwoordelik vir die dood van Fluffy, die alfamannetjie van die CT2-bobbejaantrop, is tot R15 000 verhoog.
Die Kaap die Goeie Hoop-DBV sê die bedrag is van R5 000 verhoog ná bydraes van lede van die publiek wat deur die voorval geraak is. Fluffy is op 7 Oktober gevind waar hy aan sy agterpote gesleep was. ’n Wildveearts het hom verdoof en hy is vir ‘n dringende veeartsenykundige ondersoek geneem. Volgens die DBV het X-strale talle korrels in Fluffy se liggaam getoon, onder meer in sy ruggraat en rondom sy organe. Hy het ook beheer oor sy blaas verloor. Weens die erns van sy beserings moes hy op ’n menslike wyse van kant gemaak word.
Die DBV doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om dit aan te meld by [email protected]. Meld asseblief soveel besonderhede moontlik aan, waaronder die ligging, datum en tyd van die voorval, asook enige foto’s of video’s. Die DBV kan ook by 021 700 4140 gekontak word.