Brekende Nuus
Nuus

Pa erken skuld aan verkragting en moord op 4-jarige dogter

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Pa het skuld beken op die verkragting, mishandeling en moord op sy 4-jarige dogter in Eldorado Park. Hy het ook skuld beken op die aanranding van hom en sy vrou se 3-jarige seun in ’n afsonderlike voorval.

Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoeder, sê die verhoor van die pa en ma het op 20 Oktober in die hooggeregshof in Johannesburg begin. Charlene Mack, die staatsadvokaat in die saak, het die aanklagte aan die beskuldigdes gestel, waarna die pa op al die aanklagte teen hom skuld beken het. Die ma, wat onder meer aangekla word van moord, kindermishandeling en versuim om seksuele misdrywe aan te meld, het onskuldig gepleit. Die staat beweer dat sy bewus geword het van beserings wat die kind opgedoen het, maar dit nie by die toepaslike owerhede aangemeld het nie.

Volgens die staat is die 4-jarige meisie op 6 Augustus 2025 aangerand en seksueel misbruik terwyl haar ma by die werk was. Bure het na bewering die kind hoor skree en die polisie ontbied. Die meisie is bewusteloos en met ernstige beserings gevind en hospitaal toe geneem, waar sy later dood is. Die saak is tot vandag uitgestel sodat die pa se regsverteenwoordiger ’n skriftelike verklaring ingevolge artikel 112(2) van die Strafproseswet, waarin die feitelike grondslag van sy skulderkenning uiteengesit word, kon voorberei.