KWAZULU-NATAL. – Siphosethu Ndovela (29) is in hegtenis ná ’n beweerde voorval waartydens ’n egpaar en hul vriend van geld wat hulle by ’n casino naby Umdloti gewen het, beroof is.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Robert Netshiumda het die voorval op 21 Augustus plaasgevind nadat die drie omstreeks 23:00 die casino in twee voertuie verlaat het. Met hul aankoms by hul woning in Bartlettweg in Pinetown is hulle na bewering deur twee gewapende verdagtes gekonfronteer, waartydens die geld en die vrou se handsak gebuit is.
Blitspatrollie-beamptes het, onbewus van die roof, naby die verdagtes se wegkomvoertuig gery en onder skoot gekom, maar kon skuiling soek en is nie beseer nie. Die verdagtes het in ’n wit Toyota Yaris met vals registrasienommers, op die vlug geslaan. Ondersoek het ook ’n wit Volkswagen Polo, waarvan Ndovela as die eienaar geïdentifiseer is, met die misdaad verbind. Hy is op 19 Oktober in hegtenis geneem.
Ndovela het Woensdag in die Pinetown-landdroshof voorgekom en is steeds in aanhouding. Hy sal na verwagting weer op 27 Oktober vir ‘n formele borgaansoek in die hof verskyn. Die polisie soek steeds na die tweede verdagte, wie se identiteit volgens die polisie bekend is.