Waarskuwing! Video’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
KWAZULU-NATAL. – ‘n Vermeende verdagte van ‘n motorkaping is doodgeskiet nadat Sidney Hill na bewering teruggeskiet het toe gewapende mans hom en sy twee kinders in Lea Place, Pinetown, probeer kaap het.
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die polisie het drie sake geopen, naamlik poging tot moord, poging tot motorkaping en ’n geregtelike doodsondersoek. Volgens Magwaza het die voorval op Vrydag 9 Oktober plaasgevind toe die pa en sy twee kinders by hulle erf stilgehou het. ’n Wit voertuig met onbekende mans het na bewering hul voertuig versper in wat vermoedelik ’n poging tot ‘n motorkaping was. Die verdagtes het na bewering op hulle losgebrand, waarna die pa teruggeskiet het en een van die verdagtes noodlottig gewond is.
Die polisie se ondersoek duur voort. Die video-opnames is deur Nuusflits van ‘n betroubare bron ontvang.