Brekende Nuus
Nuus

Kook kraanwater in dele van Pretoria

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Stad Tshwane waarsku inwoners en ondernemings in dele van Pretoria om kraanwater voor gebruik te kook nadat toetse op 21 Oktober mikrobiologiese besoedeling in water uit die Findlay-reservoir aangetoon het. Die stad het die betrokke waterbron geïsoleer en die watertoevoer na die middestad en omliggende gebiede na die Salvokop-reservoir oorgeskakel.

Volgens die Stad se verklaring is die besoedeling veroorsaak deur ’n onverwagte rioolpypbreuk waardeur besmette water die watertoevoerstelsel binnegedring het. Die bestaande chlorinering was nie voldoende om die verhoogde mikrobiese vlakke te hanteer nie. Die Stad het die Findlay-reservoir leeggemaak en begin om die betrokke pypnetwerk te spoel. Waterwaens sal ook drinkwater aan geraakte gemeenskappe voorsien, met besonderhede oor liggings wat nog aan inwoners gegee sal word. Die Stad beklemtoon dat die voorval nie verband hou met die voortslepende waterkrisis in Bronkhorstspruit nie.

Die gebiede wat geraak word, is Arcadia, Asiatic Bazaar, Asiatic Bazaar-uitbreiding 1, Belle Ombre 636-JR, Cape Boys’ Location, Daspoort 319-JR, Elandspoort 357-JR, Marabastad, Phillip Nel Park, Pretoria, Pretoria-Sentraal, Pretoria-uitbreiding 1, Pretoria-uitbreiding 9, Pretoria-uitbreiding 11, Pretoria-uitbreiding 14, Pretoria Town and Townlands 346-JR, Pretoria and Townlands 351-JR, Pretoria and Tshwane, Prinshof 349-JR, Skougronde 648-JR, Sunnyside en Trevenna. 

Inwoners moet kraanwater vir minstens een minuut lank sterk laat kook en daarna laat afkoel voordat dit gedrink word, gebruik word om kos voor te berei of tande te borsel. Gestoorde kraanwater en ys wat van die water gemaak is, moet weggegooi word. Ongekookte kraanwater moenie gedrink word of gebruik word om kos voor te berei nie. Die voorsorgmaatreël bly van krag totdat verdere toetse bevestig dat die water veilig is.