Brekende Nuus
Nuus

Vrou in hof ná beweerde vervalsing van haar eie ontvoering

Foto: NVG

GAUTENG. – Ntombifuthi Mavis Rumo (37) het Donderdag in die Kwa-Thema-landdroshof voorgekom nadat sy na bewering haar eie ontvoering gereël het om geld van haar familie te eis. Haar medebeskuldigde, Bonginkosi Mndebele (27), kon nie persoonlik verskyn nie omdat hy in die hospitaal is. Albei staan tereg op ’n aanklag van regsverydeling.

Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die drie betrokkenes het na bewering op 7 Oktober besluit om Rumo se ontvoering voor te gee omdat hulle finansiële probleme ondervind het. Hulle het glo haar familie gekontak en geld vir haar vrylating geëis. Nadat die familie nie kon betaal nie, is Rumo na bewering op 12 Oktober vrygelaat en in Vlakfonteinweg agtergelaat, waarna haar familie gevra is om haar daar te gaan haal.

Rumo is op 20 Oktober in hegtenis geneem nadat haar man haar na die polisie geneem het. Sy het die polisie daarna na Mndebele gewys. Die saak is tot 29 Oktober uitgestel vir borgtogondersoeke en Mndebele se hofverskyning. Die Staat beoog om borgtog vir albei beskuldigdes teen te staan.