NOORD-KAAP. – Willem Koper (26), wat voorheen aan moord skuldig bevind is, het in die Upington-landdroshof verskyn in verband met die beweerde moord op Heinrich Human, ’n 9-jarige seun van Louisevaledorp, naby Upington. Die graad 2-leerling van die Primêre Skool Frank Biggs is in die vroeë oggendure van Sondag 18 Oktober doodgesteek terwyl hy geslaap het.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die staat beweer Koper was in ’n verhouding met ’n familielid van die kind. Die paartjie het na bewering die aand voor die voorval ’n rusie gehad, waarna die vrou die perseel verlaat het om verdere konfrontasie te vermy. Volgens die staat het Koper later na die huis teruggekeer en die seun doodgesteek in die kamer waar die vrou gewoonlik geslaap het. Die kind is op die toneel dood verklaar. Koper se saak is tot 29 Oktober vir ’n moontlike borgtogaansoek uitgestel en hy bly in aanhouding.
Die staat, wat deur aanklaer Elouise du Plessis verteenwoordig word, gaan borgtog sterk teenstaan weens die erns van die beweerde misdaad, kommer oor openbare veiligheid en Koper se vorige veroordelings. Hy is op 2 Julie 2021 aan moord skuldig bevind en vyf dae later in ’n afsonderlike saak aan statutêre verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is agt jaar tronkstraf vir moord en vyf jaar vir aanranding opgelê. Hy is in Augustus 2025 op parool vrygelaat, wat volgens die NVG tot 1 Julie 2029 sou duur.
Christopher Bouman, senior staatsaanklaer, het sy skok oor die voorval uitgespreek en gesê die NVG beskou geweld teen kinders in ’n baie ernstige lig. Hy het beklemtoon dat kinders onder die kwesbaarste lede van die samelewing tel en teen geweld, mishandeling en verwaarlosing beskerm moet word. Die polisie se ondersoek duur voort.