Brekende Nuus
Nuus

174 DA-verkiesingsplakkate glo in Hertzogville gesteel

Foto: DA Vrystaat

VRYSTAAT. – Die polisie ondersoek die beweerde diefstal van 174 verkiesingsplakkate van die DA in Hertzogville en die Malebogo-nedersetting. Die plakkate, wat na bewering onregmatig verwyder is, word op sowat R32 190 geskat. ’n Diefstalsaak is vir verdere ondersoek geopen.

Sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder, sê die 44-jarige klaer, die DA se aangewese kiesafdelingsbeampte in die Tokologo- plaaslike munisipaliteit, het op 2 September 300 verkiesingsplakkate in Hertzogville en Malebogo opgesit. Toe hy op 11 Oktober die plakkate tel, was net 126 oor. Die 174 plakkate is na bewering uit Malebogo-, Van Niekerk- en Skoolstraat, asook die R708-pad na Christiana, verwyder.

Die polisie waarsku dat die onregmatige verwydering van verkiesingsplakkate of -borde deur artikel 72(1) van die Wet op Plaaslike Regerings: Munisipale Kieswet, 27 van 2000, verbied word en die verkiesingsgedragskode kan oortree.

Enigiemand met relevante inligting wat die ondersoek kan help, kan speur.sers. Setshaba Sello by 071 774 1160 bel.