Brekende Nuus
Nuus

Uiterste hitte hou groter risiko vir swanger vroue en babas in

Foto: Ter illustrasie

Uiterste hitte hou toenemende gesondheidsrisiko’s vir swanger vroue, pasgeborenes en kinders in, waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Die WGO het saam met die Wêreldmeteorologiese Organisasie (WMO), Unicef en die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds (UNFPA) ’n nuwe wêreldwye raamwerk bekendgestel om die uitwerking van hitte op moeders en kinders beter te monitor. Navorsing wat deur die WGO aangehaal word, toon dat blootstelling aan hitte met ’n 26%-toename met die kans op ’n voortydige geboorte verband hou. Die WGO het die raamwerk op 21 Oktober bekendgestel en sê gesondheidsowerhede moet hitteblootstelling saam met gesondheidsdata monitor om gevaartekens vroeër te identifiseer. Die voorgestelde aanwysers sluit voortydige geboortes, stilgeboortes, lae geboortegewig, hoë bloeddruk tydens swangerskap en sterftes onder kinders in. 

Volgens die organisasie het babas jonger as een jaar in 2024 wêreldwyd 389% meer dae met hittegolwe ervaar as gedurende die verwysingstydperk van 1986 tot 2005. Na raming word sowat 1,5 miljard kinders wêreldwyd blootgestel aan hittegolwe wat meer gereeld voorkom, langer duur of erger word.

Die organisasies doen ’n beroep op lande om hittegesondheidsplanne op te stel wat by plaaslike omstandighede aangepas is. Vroeë waarskuwings, toegang tot gesondheidsdienste en beter monitering kan help om kwesbare groepe te beskerm namate uiterste hitte toeneem.

Bronne: WGO, WGO