Brekende Nuus
Boeke

Jou brein: vriend of vyand? Hennie Terblanche deel die verhaal agter sy nuwe boek

In sy nuwe boek, Jou Brein: Vriend of Vyand, ondersoek Hennie Terblanche hoe ou denkpatrone ons reaksies beïnvloed en hoe om nuwe denkgewoontes vas te lê.

Hennie Terblanche langs sy boek Jou Brein: Vriend of Vyand en die Engelse uitgawe, Your Brain: Friend or Foe
Hennie Terblanche se nuwe boek, Jou Brein: Vriend of Vyand, verskyn in Afrikaans en Engels. Foto: Verskaf

’n Kort e-pos van jou baas beland in jou inboks: “Kom asseblief gou na my kantoor.” Jou hart begin vinniger klop. Jy wonder wat jy verkeerd gedoen het. By sy kantoor wag daar egter ’n dankie, eerder as ’n uittrapsessie.

Hennie Terblanche gebruik dié alledaagse voorbeeld om te verduidelik hoe ou ervarings ons reaksies kan beïnvloed. Vir iemand wat die skoolhoof se kantoor met moeilikheid verbind het, kan ’n onskuldige versoek jare later steeds ongemak ontlok.

Dit is die soort denkpatroon wat hy in sy nuwe boek, Jou Brein: Vriend of Vyand, ondersoek. Die boek sal in Afrikaans en Engels beskikbaar wees en bevat ook die gedeelte Jou Kop as Spanmaat, waarin hy die beginsels op sport toepas.

“Ek het oor jare gesien hoe mense graag wil verander, maar telkens in dieselfde patrone terugval,” sê Terblanche. “Ek wou die beginsels wat my eie lewe verander het, eenvoudig en prakties deel. Mense is moeg en gespanne, en hulle verdien hulpmiddels wat werklik werk.”

Terblanche is al meer as 30 jaar by berading, sport en lewensafrigting betrokke. Hy woon in George, speel graag gholf en bied werkswinkels vir maatskappye en gemeenskappe aan. Sy gereelde boodskappe oor denke, dankbaarheid en persoonlike groei vorm reeds deel van baie mense se oggende.

Die persoonlike verhaal agter Hennie Terblanche se boek

Die boek het egter ook ’n persoonlike oorsprong. Hy vertel dat hy later in sy lewe begin nadink het oor hoe sy ouerhuis, skool, godsdiens, kultuur en politiek sy denke gevorm het.

Wanneer hy vrae gehad het, het hy aanvanklik antwoorde by dieselfde mense en instansies gesoek wat daardie oortuigings help vestig het. Volgens hom het dit min ruimte vir nuwe insigte gelaat.

“Totdat ek besef het: daar is meer. Ek het nie my geloof afgeskiet nie, maar ek het begin bevraagteken, gelees en toegepas.”

Dié proses het volgens hom tot groter vrede, vreugde en emosionele groei gelei.

“Ons is almal nog elke dag op ’n pad van groei en ontwikkeling, maar dit is ’n opwindende pad.”

Ou programme en nuwe denkpatrone

Met Jou Brein: Vriend of Vyand wil hy mense bereik wat verandering soek, maar nie weet waar om te begin nie. Dit is ook bedoel vir lesers wat voel daar is nog potensiaal wat hulle wil ontdek en ontwikkel.

Hy beskryf die “ou programme” waaroor hy skryf as gevestigde denkpatrone en oortuigings wat ’n mens se reaksies kan beïnvloed, soms voordat jy bewustelik daaroor nadink.

Waar sy dagstukkies gewoonlik een gedagte aanraak, bied die boek ruimte om die idees verder te ontwikkel en prakties toe te pas.

“’n Dagstukkie plant ’n gedagte. Die boek gee jou die hele pad: hoe jou brein werk, hoe om jou eie ou programme te ontdek, en hoe om stap vir stap nuwe programme vas te lê, met ware stories, navorsing en praktiese oefeninge. Nie net die ‘wat’ nie, maar ook die ‘hoe’.”

Volgens Terblanche bevat die hoofstukke navorsingsverwysings, met die bronne aan die einde van elke hoofstuk.

Vang, stop en vervang

Een van die oefeninge wat hy voorstel, noem hy “vang, stop en vervang”. Dit behels dat ’n mens ’n negatiewe gedagte raaksien, dit bewustelik onderbreek en jou aandag rig op die positiewe uitkoms wat jy eerder wil nastreef. Hy beklemtoon dat die inoefening van nuwe denkgewoontes herhaling verg.

Dankbaarheid is nog ’n deurlopende tema in sy werk. Vir hom begin dit nie deur hartseer of probleme te ontken nie.

“Erken eers eerlik die uitdaging of die seer in jou lewe. Begin dan klein: sê elke oggend dankie vir jou bed, vir water, vir koffie.”

Hy beskryf dit as die inoefening van ’n lewensingesteldheid: om waardering vir die alledaagse te ontwikkel en ook in moeilike tye ruimte daarvoor te maak.

Jou Kop as Spanmaat

Die laaste gedeelte van die boek, Jou Kop as Spanmaat, neem die beginsels na die sportveld. Dit is deel van dieselfde boek, eerder as ’n afsonderlike publikasie.

Terblanche sê hy kon die beginsels op die sakewêreld, ’n loopbaan of die geestelike lewe toegepas het, maar het sport gekies omdat dit vir soveel mense bekend is. Of jy self deelneem of langs die veld ondersteun, sport bied talle voorbeelde van hoe mense druk, teleurstelling, dissipline en spanwerk hanteer.

“Ek sien sport as een van die beste maniere om kinders van jongs af lewensbeginsels soos dissipline, selfrespek, respek vir ander en spanwerk te leer, terwyl hulle iets doen wat hulle geniet.”

Dié gedeelte is volgens hom bedoel vir jong spelers, professionele atlete en mense wat bloot vir ontspanning sport beoefen.

“Jou kop kan jou grootste teenstander wees, of jou beste spanmaat.”

Hy sien die boek ook as ’n geskenk vir ’n vriend, familielid of werknemer wat in persoonlike groei belangstel. Die doel, sê hy, is dat lesers die beginsels kan verstaan en dit dan in hul eie alledaagse lewe toepas.

Wanneer verskyn die boek?

Die boek is tans in die uitgewersproses. ’n Finale prys en verskyningsdatum is nog nie bevestig nie, maar Terblanche hoop om teen middel November 2026 meer besonderhede bekend te maak.

Lesers kan hul belangstelling registreer by hennieterblanche.co.za/boek om te hoor wanneer die boek beskikbaar is.

Volg Hennie ook op Instagram by @kreatiewedenke.