KWAZULU-NATAL. – ’n Man was Saterdagaand ure lank onder ’n Rovos Rail-trein by Canelands vasgekeer, nadat hy deur die trein getref is. Die man het verskeie beserings opgedoen, waaronder vermoedelike frakture aan sy been en skouer.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê volgens ‘n sosialemediaplasing die diens is omstreeks 22:55 vir hulp ontbied. Reaksiebeamptes het die man onder die stilstaande trein aangetref. Hy het steeds asemgehaal. Brandweer- en reddingspersoneel het hom later bevry, waarna hy na ’n hospitaal vervoer is. Sy identiteit was ten tyde van die berig nog nie vasgestel nie.
Rusa sê volgens die treinpersoneel het die masjinis die man op die spoor sien sit, reg in die pad van die naderende trein. Hy het glo verskeie kere die toeter gebruik om hom te waarsku, maar die man het op die spoor bly sit. Weens die kort afstand en die trein se rembeperking kon die masjinis nie betyds stop om die botsing te voorkom nie.
Die trein het daarna tot stilstand gekom, waarna die man onder die trein gekry is. Rusa het beeldmateriaal van die voorval wat met lyfkameras opgeneem is. Die bewering dat die trein toeriste vervoer het, kon nie bevestig word nie.